2015-04 Trip Swaziland Zululand – Dag 10

Dag 10 – ongevalle toe

Dis eintlik ons laaste dag van die vakansie. More is net terugry huistoe. Die sou by verre ‘n laagtepunt dag van die trip word – min het ons geweet.

Na ‘n vinnige ontbyt besluit ons om sommer vroeg hoofstrand toe te gaan vir ‘n strand, see en swem dag.

En dit draai uit in ‘n lieflike oggend op die strand. Nie te besig nie en nie te verlate nie. Die seewater is lekker en met laagwater kan die kinders lekker speel sonder dat dit baie diep is met die vlak golfies. Dieper kan mens sterk systrome sien en die lewensredders het hulle hande vol om die mense tussen hulle vlaggies te hou.

Dit hou ook nie baie lank op die strand nie of ons moet weer aanbeweeg. Ons gesin hou nie baie lank op die strand nie, maar die Skoonfamilie se sand en son uithou is nog heelwat minder. Die informele mark digby die strand word eers deurgekyk of mens iets moet koop en die stalletjies by die Skibootklub-byeenkoms word ook weer besoek.

Dan wil Skoonsus-hulle iewers gaan sit vir koffie. Ons ry die waterfront verby en beland op die ou end by die Spur in die besige mall. Diens is maar treurig en die kinders se knibbel-pizza beland in ons aanskoue op die kombuisvloer – ons kanselleer die maar voor hulle ‘n ander kon maak.

Terug kamp toe en Skoonma wil eers by die Pick ‘n Pay in – die keer die stiller een naby die kamp.

Ons gaan swem met die kinders in die oord se mooi swembad en dit was nie lank nie… Daar is ‘n houtpaal wat dwars oor die swembad lê. Die kinders klim hier op en spring af en so. Ek en jongste sit by die kinderswembad.
Mammie moedig toe vir Ousus aan om die balk te loop van eenkant na anderkant – soos hulle elke week by die gimnastiek klassie doen. Haar nefie loop nie ver agter haar nie en spring af in die swembad. Die balk wip, sy verloor haar balans en stamp haar ken op die balk voor sy in die water val.
Skreeu ten hemele en dis net bloed. Dis ‘n lelike oop snywond net onder die kennebak en ons keer net bloed.

Spring in die Jeep met die kind en jaag na die naaste kliniek wat die GPS aandui in Meer-en-See. Die is toe. Dis 14:00 op ‘n Saterdag middag van die Paasnaweek. Die Medicross in die dorp is ook toe. Nou is dit ongevalle toe in die Netcare Bay hospitaal.

Dis besig. Skynbaar net een Dokter aan diens – bid jou dit aan en oor ‘n paasnaweek. Ons wag sowat ‘n uur om in die “Triage” kamer te kan kom. Dan besluit hulle om ‘n lêer oop te maak en ek dog ek vra wat die storie my gaan kos…

“Meneer, dit sal so R2600 wees.” Ek sluk ‘n wind. “Maar moenie worry nie, ons trek dit uit jou Medies se Spaarrekening uit”.
Nou is ek redelik kwaad. “Jy weet mevrou, ek is die enigste een wat daai rekening oppas, anders maak julle hom leeg”. Iemand in die wagkamer het van ‘n apteek gepraat met ‘n briljante suster blykbaar en ek wil die eers gaan probeer. Met ‘n vorige keer het ‘n gom en steri strip die ding gedoen en mooi geheg.

Ons vind die Link apteek en die suster voel nie opgewasse om te probeer help nie. Sy verwys ons na ‘n Algemene Praktisyn in die sentrum en na ek vorms by die man invul kry ons hom te siene. Hy lyk ook nie juis gewillig om te help nie en het ook nie gom, strips of enigiets om mee te werk nie. Die opsies raak min en ons moet die kind help. Dis toe maar weer terug ongevalle toe en na nog so 2ure wag beland ons in ‘n kamertjie waar ‘n dokter so teen 18:30 3-steke in die kind se ken inwerk. Ons twyfel of die lokale verdowing gewerk het of hoegenaamd gebeur het, want sy kry bitterlik seer en skree dat daai hele hospitaal kon weet.

Dis werklik ‘n klein geval, maar ‘n groot trauma vir mens as ouer dat die kind so seer kry en jy haar nie kan help nie.

Nou al goed donker en ons poegaai en honger. Ons mense in die kamp het klaar geëet en ons kry ‘n wegneem happie saam kamp toe.

Mammie kry die kinders gebad en rustig in die bed. Ons is gedaan en ek pak los goed weg om more in die pad te val.

Nie die lekkerste dag gewees nie…

201504041

Kliek hier vir Dag 11…

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *