2015-04 Trip Swaziland Zululand – Dag 8

Dag 8 – sopnat en vol sand

Ons pak kamp op vir ons laaste bestemming van die trip, Richardsbaai. Die GPS wil my op ‘n 2-spoor grondpaadjie na die hoofweg neem en ek hou maar verby om weer deur die dorp te ry. Ons was net mooi op spoed op die N2 rigting Suid, toe die verkeer tot stilstand kom. Hy staan doodstil. Ek kon ry tot op ‘n brug en kon mooi nog ‘n paar kilometer se staan verkeer sien. Ons draai maar om, terug deur die dorp en weer Suid op die grondpaaie om die ongelukstoneel te kan verby kom. Dit mors baie tyd.

Die N2 is baie besig. Ons het gedink om St. Lucia aan te ry vir brunch. SkoonPa wil eers op Mtubatuba volmaak en dis ‘n mal nes van bedrywigheid. Ons vorder tot by St.Lucia en dis steeds so ‘n pragtige stil plekkie soos ek hom onthou. Skoonsus soek ‘n eetplek met uitsig en ek ry tot by Sugarloaf kamp se ingang, waar die GPS ‘n eetplek aandui, maar dis die Seiljagklub se restaurant en maak eers 12uur oop. Terug in die dorp besluit ons op ete by Baracca restaurant. Die diens is baie stadig en die kinders verveeld. Kos is maar so-so.

Die vrouens wil ook eers al die winkeltjies op die dorp deurwerk en my 2 meisies kry elkeen ‘n Hello Kitty handsakkie wat hulle besonders ingenome maak.

Terug N2 toe en dan nog ‘n ent Suid na Richardsbaai. Die verkeer is druk om die dorp in te kom en ons vorder eindelik tot by die kamp se ingang. Doret ontvang ons en handel formaliteite af. Elkeen moet ook ‘n groen armbandjie dra vir die tydperk van ons verblyf.

Ons kry staan op ons staanplekke en ontmoet Jacques van Durban. Hy is hier vir die naweek se visvang kompetisie met sy “klein” boot. Die kamp het verskeie kampeerders met bote, maar is nie tot kapasiteit toe vol nie.

Skoonsus, Swaer en Skoonma is dorp toe en haak lelik vas in die mal besige sentrum. Hulle praat van massas mense – natuurlik so voor die paasnaweek en ek baie bly ons was nie saam nie.

Laatmiddag vat ons die kinders tot by die see. Hulle is uit hulle velle. Ek voel ook die lekker seewater – ‘n hewige kontras teenoor die Weskussee van ‘n paar maande gelede. Maar ‘n golf wat uitstoot laat my rittereer en ek struikel oor ‘n sandwalletjie en gevolglik seewater wat my sopnat en vol sand was. Ek is maar vies en klim al 61 trappies terug kamp toe vir ‘n stort.

Later maak ons vuur en braai. ‘n Briesie hou maar aan beweeg en ons is eerder kooi toe.

201504021

Kliek hier vir Dag 9…

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *