2015-04 Trip Swaziland Zululand – Dag 9

Dag 9 – ‘n feestelikheid soos min

Vroegoggend is die Ski-boot manne verskriklik lawaaierig in die kamp. Jacques-van-Durban langsaan hoor mens nie wanneer hy om 3uur uitsleep nie, maar ‘n GP groepie anderkant die pad het geen respek vir hulleself of ander kampeerders om hulle nie.

Douvoordag is SkoonPa’le met die kinders af strand toe. Kleinste slaap biki later en stap later af saam met ons. Aanvanklik sien ons hulle nie, maar drentel see langs in die rigting van die hoofstrand. Die hele strand is heel nou en met hoogwater druk die see jou teen die duin vas.

Mettertyd sien ons hulle aankom en ons is terug kamp toe. Brunch word gemaak en ons kuier meestal in die kamp rond. Van die kamp se personeel maak ‘n redelike oorlas van hulleself met die aanbied van hulle Skottelgoedwas- of Karwas dienste. Goodness kry op die ou end ‘n skottel skottelgoed om te was en alhoewel die Jeep dodelik vuil is, klink dit nie of Menzi die regte seep vir karwas het nie en ek wys van die hand.

Vroegmiddag oortuig ek die familie om saam te kom kyk by die Skibootklub wat daar aangaan. Die diepsee vissersbote kom een na die ander terug en kom weeg hulle vangste in. Dis ‘n feestelikheid soos min en ‘n organisasie wat skrik vir niks. Die vangs word aan ‘n haak gehang om te weeg en die gewig, spesie, visserman en boot se besonderhede word oor die luidsprekers uitgebulder. Groot pryse is op die spel – ‘n spiksplinternuwe Skiboot as eerste prys. Groepies mense sit vasgenael en volg die gebeure op die verhoog. Snaakse nasie – mens kan jou vinger nie op dit lê nie en hier is genoeg drinkgoed beskikbaar. Verder word hier groot gekuier – dit gaan nie vroeg wees nie. Verskeie stalletjies met goedere en kositems ook hier. Die kinders soek elkeen ‘n stokkie-spiraal-oliegebraaide-aartappel bedryf, maar die is te sout na hulle smaak. Roomys maak sake reg.

Terug kamp toe en laatmiddag gaan vlieg SkoonPa en SkoonSus hulle vlieers op die strand.
Vir aandete maak ons sommer iets in die pot, want soveel aande se braai raak ook genoeg na ‘n ruk.

Dan bad en bed toe voor dit laat raak.

201504031

Kliek hier vir Dag 10…

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *