2016-12 Swellendam & Grootbrakrivier – Dag 1

Ons vertrek so 4:00 by die huis en na ‘n diesel volmaak en bande pomp by die vulstasie, val ons in die pad. Eers met die N12 in Krugersdorp se rigting, maar dan draai ek weg na Ventersdorp om al die verkeersligte deur Krugersdorp en Randfontein te vermy. Die Rysmierbultpad is ook heel mooi, maar vir die laaste ent na Potchefstroom sluit mens aan op die Carletonville pad en hy is maar stamperig. Ons bereik Klerksdorp so net voor 7 en die dorp is nog aan die slaap so vroeg op ‘n Sondag. Ons kry darem koffie by McDonalds, maar hulle masjien vat baie lank om aan’t brou te kom.

Noordwes se dorpe tik verby en wanneer ons Kimberley bereik is dit al hoogtyd vir brunch. Ons spoor die besige Cockatoo Spur in Kimberley op en die diens is maar baie stadig. Die restaurant is nie uitermatig besig nie, maar die personeel het maar hande vol. Intussen geniet die kinders hulle lekker speelarea terdeë.

Met happies gedaan, maak ons spore uit die dorp. Ek vergeet amper om diesel te gooi, maar kry darem die truck stop net buite die dorp vir ‘n volmaak.

Die pad is nie baie besig nie en die karoo dorpies tik een vir een verby. Die Karoo is baie droog. Victoria-Wes het ‘n mobiele spoedkamera aan padteken vasgeketting soos mens die dorp binnekom en die offisier sit anderkant die dorp in die koelte van ‘n bushalte dakkie met nog ‘n gatsometer wat hy beman. By Drie Susters sluit ons aan by die opmerklike besiger N1. Die Ultra City help met ‘n middag cappuccino en roomys vir die kinders.

Beaufort-Wes is ook heel besig en hier tap ek weer diesel. Dit was ‘n lang dag se ry toe ons aankom by die Karoo Nasionale Park teen 17:30. Die personeel is baie vriendelik en ons handel formaliteite vinnig af. Die karavaankamp is heel vol en ons maak staan op ‘n beskikbare plekkie. Ons braai ‘n happie vir die aand en mammie gaan stort met die kinders. Ons is sommer vroeg in die vere.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *