2016-12 Swellendam & Grootbrakrivier – Dag 4

Vandag wil ons graag Kaap Agulhas gaan sien – die mees Suidelike punt van Afrika. Ons jaag nie vreeslik om weg te kom nie, maar soos ons die kamp uitry besef ek die bakkie se diesel is nogal min. Die gps reken nie hier is juis vulstasies op koers die Suide in nie en ons is eers terug dorp toe om te gaan brandstof vul. Die diens is maar stadig, maar mettertyd kry ons die afgehandel en kan koers vat Suide toe.
Agulhas is so 100km van Swellendam en net ‘n lekker rit vir die dag. Ons ry ook deur die pragtige Bredasdorp. Elke dorpie het sy eie bekoring.
Ons hou eers stil by Struisbaai se strand en ‘n matige windjie waai uit die see. Kleinste wil eers nie naby die see gaan nie, maar nadat ons die voete met moeite nat gekry het, wil hulle net sand speel. Daar is mos altyd maar ‘n lekkerte om die see weer hallo te sê.
Ons beweeg eers aan en parkeer by die Kaap van Agulhas se parkeerarea. By die hoeksteen staan die toeriste tou om die poskaart foto geneem te kry en ons maak ook so. Dis nie aldag wat mens 2 oseane wydsbeen oor kan staan nie. Ons besoek ook die ligtoring en neem die 71 trappies se klim tot bo. Die Wildkaart help niks en die “aktiwiteit” se koste beloop nog so R84 vir ons 2 volwassenes en 2 kinders. Met die hoogtevrees wat knaag raak dit ‘n adrenalien belaaide aktiwiteit. Bo-op die toring waai die windjie ook heel sterker en mens klou maar aan die handreling vas. Die klim ondertoe is amper moeiliker en mens is maar weer lief vir moeder aarde wanneer mens vasvoetig op hom kan staan.
By Struisbaai se vlooimark koop ek ‘n groot sak Rooikrans braaihout en die OK Grocer het lekker pasteie wat goed werk vir ‘n vinnige happie terug by die strand. Op die stadium is dit ook nou hoogwater en die strand sommer heelwat kleiner as vanoggend. Ons sit ‘n ruk terwyl die kinders na hartelus speel in die sand.
Oppad terug kamp toe besluit ons om ook vinnig uit te ry na Waenhuiskrans oftewel Arniston. Lieflike klein plekkie wat lyk of dit net vakansiehuise het. Die hotel lyk baie netjies, met baie gaste wat op hulle dek sit en iets nuttig. Die swemstrand is bedrywig en mense baljaar in die see.
Ons keer terug kamp toe met dieselfde roete as vanoggend oor Bredasdorp. Terug in die kamp wil die kinders met alle geweld gaan swem en mammie sluit by hulle aan. Laatmiddag braai ons heerlik lekker en kom ook weer vroegerig in die vere.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *