2016-12 Swellendam & Grootbrakrivier – Dag 5

Vandag is ‘n mooi dag op Kambati en ons aanvanklike gedagte was om Witsand toe te ry. Maar die gps bereken dis ook so 100km se ry. Nog ‘n lang dag se ry is ons nie juis lus voor nie en ons besluit om uit te ry Robertson toe. Mooi eetplek op een of ander wynplaas of so op te soek.
Padlangs van Bonnievale af is dit wynplase – een na die ander. Pragtige wingerd wêreld. Ons draai in by Viljoensdrift wat lyk of hy ‘n mooi restaurant en dek langs die rivier het, maar ons blyk hopeloos te vroeg te wees vir die mense. En ons ry verder tot op die pragtige Robertson. In die dorp soek ons vir ‘n lekker koffiewinkel, maar kry nie juis iets wat interessant lyk nie. Vir ‘n laaste probeer ry ons na ‘n sogenaamde “Grand Cafe” punt wat die gps toon en die is toe in werklikheid die spik splinternuwe wynproe en restaurant kompleks van Four Cousins. Baie sjiek en smaakvol. Die restaurant het groot stapel glasdeure wat oopmaak na buite, waar ‘n lieflike speelarea vir die kinders buite onder die bome ingerig is. Die is presies waarna ons opsoek was vir die dag se uitstappie. Die kos is baie smaakvol en mens kan nie anders as om ‘n bottel van die Vier Neefs ook te nuttig saam die ete nie. So oppad uit wil mens ook biki voorraad aankoop – ja mens kan in die supermark ook kry, maar dit voel net lekkerder om hier te koop. Die kredietkaart sing en ons val in die pad terug kamp toe oor Ashton en Swellendam.
Die roetes is opmerklik besiger as voorheen soos al die vakansieverkeer hulle bestemmings wil bereik. En terug in die kamp is dit lekker bedrywig soos hy besiger raak. Die kinders wil swem en later waai die wind nogal sterk met onweer wat dreig. Maar geen druppel reën val die aand nie.
Met die bad en bed toe roetine volstaan ons vir die dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *