2016-12 Swellendam & Grootbrakrivier – Dag 6

Vandag is ons laaste dag by Kambati. Ons spandeer ‘n luilekker oggend met die kinders by die swembad en hulle swem na hartelus. Die oord raak ook nou lekker besig met die langnaweek wat op hande is.
Dis ‘n lekker warm dag en agtermiddag ry ons na Bontebok Nasionale Park om te gaan kyk hoe dit daar lyk. Die park is digby Swellendam. Die ontvangs prosedure vat lank, omdat verskeie gaste inteken en van hulle nog een of ander probleem ook met hulle besprekings het. Met die sake afgehandel ry ons eers na die kampterein om te bekyk. Dis stampvol, warm en die skaduwee lyk skraal. Teleurstellend ook dat hier geen rivieruitsig van die kamp af is nie.
Dit lyk of visvang en fietsry die grootste aantrekking tot die park is. Dis ‘n klein park en het maar min wild. Ons sien paar keer van die Bontebokke, Zebras en Grys Reebokke. Ons voltooi ‘n sirkelroete spoedig en gaan bekyk ook die dagbesoekers piekniekarea. In teenstelling met die kamparea, is hier prag uitsigte oor die rivier met baie grasperke en braaiplekke.
Ons keer terug kamp toe en pak meestal op om vroeg more oggend in die pad te kan val. ‘n Laaste braai by Kambati smaak ook vorentoe.
.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *