2016-12 Swellendam & Grootbrakrivier – Dag 8

Vanoggend wil ons eers George toe om proviant aan te vul. Google toon vir my aan ‘n Checkers Hyper in ‘n Eden Meander sentrum. Dit klink nuut en ons val in die pad soontoe.
Daar gekom is dit interdaad ‘n prag nuwe sentrum, basies langs die Garden Route Mall. Klink of die sentrum so tikke langer as ‘n jaar oop is al. Maar ‘n pragtige koffiewinkel laat my eers vashaak en ons sit vir ‘n heerlike Cappuccino, Mocha koffie en melkskommels vir die kinders. Dan is dit die Checkers in vir die proviant aankope. Die winkel het goeie voorraad en ander uur later is ons daar uit terug kamp toe.
Ons gaan swem met die kinders by die oord se swembad en kleinste wil met die hoë opblaas gly afgly. Maar bo gekom begewe haar moed haar en ons klim al die trappies weer af. Dis bedrywig by die swembad en sy water nie te koud nie.
Later die middag gaan stap ons by die see. Op die Sondag is die strand by die strandarea weer baie besig, maar ek draai in Orion rylaan en gaan hou stil by ‘n ander deurgang na die strand. Dis toe heelwat stiller hier en ons stap lekker langs die see. ‘n Visserman trek ‘n klein haaitjie uit tot op die strand en die kinders gril hulle behoorlik vir die affere.
Later steek ek weer vuur aan en ons braai lekker.
.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *