2016-12 Swellendam & Grootbrakrivier – Dag 9

Vandag is ‘n rustige dag en ons doen nie veel nie. Vroeg oggend wil die kinders eers swem en ons vat hulle sommer net na die oord se swembad. My idee van vakansie is juis om so min moontlik te doen of rond te rits.
Dan bekyk hulle eers die paar winkeltjies wat Grootbrak se “dorp” bied. Dis gelukkig nie baie lank nie en ons is deur die lot. Lus vir roomys, laat ons op die ou ent so ver soos Hartenbos ry en dis ook ‘n kans om te sien hoe die nuwe ontwikkeling daar daarna uitsien. Ons volg die roete Wes met die ou hoofpad en by die ingang na Reebok nogal ‘n noue ontkoming – iemand wat uit die woongebied wil uit, kyk net vir verkeer uit van die een rigting en dit kos ‘n drastiese uitswaai vir my om hom te mis. Mens soek wraggies nie sulke drama op vakansie nie en ek sommer woedend. Nonchalant ry die skuldige net weg asof niks fout is nie.
Nouja, so kom ons op Hartenbos aan en die plek is lekker bedrywig soos mens verwag vir die tyd van die jaar. Daar heers maar net ‘n vakansie atmosfeer wat skrik vir niks. Die nuwe sentrum is baie mooi, maar mens soek ander parkering as enigsins naby die belaglike tariewe wat hulle hier hef. Die wind waai lekker sterk, maar dit maak niks aan die vakansiegangers nie – alles gaan steeds teen volstoom vakansie-mal deurmekaar. Nedine Blom is besig met ‘n optrede vir die kinders en die restaurante is gepak. Die waterpark lyk pragtig en my rokvolk wil al die winkeltjies ook deurwerk. Ons kry darem roomys – wat mens vinnig moet eet dat die wind hom nie wegwaai nie en ons loop so wye draai deur een van die karavaankampe terug bakkie toe.
Vroegaand is dit weer tyd vir ‘n braai en later die aand val ‘n lekker buitjie reën.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *